top of page

GELOOFSBELYDENIS

 

ONS GLO IN…

 

DRIE EENHEID – SKEPPER EN REGEERDER:

Ons glo in een God wat Homself in drie Persone openbaar (Vader, Seun en Heilige Gees).  Hy is die Almagtige Skepper, Onderhouer en Regeerder van die hele skepping in liefde.

 

GOD DIE VADER:

Ons glo in 'n liefdevolle God wat ons Vader is.  Hy het die mens se saligheid bewerk.

 

DIE SEUN VAN GOD, JESUS CHRISTUS:

  • Ons glo in Jesus Christus (Gesalfde Verlosser), die geliefde, enigste Seun van God die Vader, wat waarlik God is

  • Hy was bereid om ter wille van ons saligheid mens te word (Joh 3:16) 

  • Hy is deur die Heilige Gees verwek en is uit die maagd Maria gebore

  • Hy het as mens op aarde geleef, Hy is  gekruisig, Hy het gesterwe, Hy is begrawe en het op die derde dag uit die dood opgestaan en het opgevaar na die hemel waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit.

 

DIE HEILIGE GEES:

  • Ons glo in die Persoon van die Heilige Gees, Hy is waarlik God wat van die Vader en die Seun uitgaan het. Hy het gekom om die wêreld te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8) en om die Kerk deur die Woord en deur Sy profetiese gawes en openbaringe te lei ( Joh 16:13 en Amos 3:7)

  • Ons glo dat die Heilige Gees die opwekkings lewe van Christus in ons gees kom aanwakker soos wat ons gedurende lofprysing en aanbiddinge dieper in Sy teenwoordigheid ingetrek word.

 

DIE WIL (WOORD) VAN GOD:

  • Ons glo dat die Bybel God se Woord is. Dit is geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. 

  • Ons glo dat dit gesaghebbend die wil van God vir die mens is en wat ons alles leer wat ons vir ons saligheid benodig.

 

WEDERGEBOORTE:

  • Ons glo dat elke mens na die beeld van God geskape is. en dat dit God se wil is dat elke mens met Hom in 'n liefdes verhouding sal staan.  Vanweë die sondeval van die mens in die tuin van Eden is hierdie liefdesverhouding verbreek.  Die wedergeboorte is die enigste manier om sodanige verhouding met God te herstel (Joh.3:1-8), en dit is bewerkstellig deur die kruisdood van ons Verlosser Jesus Christus op Golgota.

 

DIE KONINKRYK VAN GOD:

  • Ons glo dat God se Koninkryk binne in die wedergeborene se gees dimensie gesetel is. (Luk 17:21)

  • Dit is 'n onsigbare geestesryk met Jesus as Koning en derhalwe, moet elke gelowige poog om die beginsels en waardes van God se koninkryk uit te lewe en te vestig orals waar hulle beweeg (Mattheus 5,6 en 7). 

  • Die opdrag aan elke burger van hierdie Koninkryk is om die Evangelie aan sondaars te verkondig sodat hulle vanuit die koninkryk van die bose na God se koninkryk oorgeplaas kan word (Kol 1:13).

  • Die karakter en natuur van Christus moet as 'n lieflike geur deur ons vrygelaat word.

KERKGEMEENSKAP:

  • Ons glo dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is wat uit alle wedergebore gelowiges bestaan en wat deur die Heilige Gees in een geestelike liggaam saamgevoeg word.

  • Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die Evangelie en die krag van God aan alle mense (1 Kor 4:20).

  • As Geesvervulde Christene, kom hulle gereeld bymekaar om mekaar te bedien en geestelik te versterk. (1 Kor 14:26).

 

HEILIGE GEES DOPING EN WANDEL:

  • Ons glo in die doping in die Heilige Gees, met die spreke in tale as die “eerste bewys” soos belowe aan alle gelowiges (Hand 2:38). 

  • Ook glo ons in die werking van die geestelike gawes en die vrug van die Gees in ’n Christen se lewe om God se koninkryk op aarde te vestig.

 

DISSIPELSKAP / “ACCOUNTABILITY”:

  • Net soos Jesus Sy dissipels gekies het, kies en roep God elkeen om Hom as Koning te volg en te ken.

  • Ons glo dat ’n Christen ’n dissipel van Jesus Christus moet wees wat ’n toegewyde en heilige lewe lei.

  • Ons is rentmeesters wat die lewe van God ontvang het en as sulks sal ons eendag rekenskap moet gee wat ons op aarde daarmee gedoen het.

 

DIE VYF-VOUDIGE BEDIENING (Efe. 4:11-13)

  • Ons glo dat die vyf-voudige bediening aan die Kerk van die Here Jesus gegee is om tot die voordeel van die heiliges geïmplementeer te word.

  • Ons glo dat die Kerk nie tot sy volle glorie sal kan terugkeer solank die ampte van die Apostel en Profeet nie ten volle in die gemeentelike opset herstel is nie (Efe 2: 19-22, 4:11 en 1 Kor 12:28).

  • Al vyf gawes van bedieninge is eers na Christus se hemelvaart aan die Kerk gegee (Efe 4:8) en is derhalwe geskenke wat die Kerk veronderstel is om uit Sy hand te aanvaar en wat so gou doenlik in Kerklike opsette geïmplementeer moet word.Dit word ongelukkig nie in die algemeen gedoen nie en derhalwe, word die meeste kerke deur geestelike droogtes gekenmerk.

  • Ons, by die Nuwe Lewe Aanbiddingsentrum wil gehoor hieraan gee deurdat die vyf bedieningsgawes in die gemeente funksioneer. Die vyf bedieningsgawes moet deur die eenheidsband van liefde saamgesnoer en gerespekteer word.

 

SAKRAMENTE EN TOEWYDING VAN KINDERS:

  • Ons glo dat die doop van die gelowige deur onderdompeling geskied (Matt 28:19).

  • Ons glo dat die Nagmaal, net soos die doop, instellings van die Here Jesus is en dat beide as sulks as sakramente deur die kerk onderhou moet word om sodoende ons koninkryks toewyding te versterk.

  • Baba’s en kindertjies word dus nie deur ons besprinkel nie, maar ons lê hulle die hande op en vra God om die kind te seën (Mat. 19:13-15).

 

EINDTYD / ESKATOLOGIE

WEGRAPING:

  • Ons glo dat Christus Sy Bruid op 'n bepaalde tyd, voordat die regeringstydperk van die antichris sal aanbreek, van die aarde sal kom wegraap. (1 Thess 4: 16-17)

 

OORDEELSDAG:

  • Ons glo in ’n oordeelsdag waarop Christus die lewende en dode sal oordeel, (Open. 20:11-15)

  • Ons glo dat die regverdige nie geoordeel gaan word nie, maar wel beoordeel sal word, sodat hy/sy loon kan ontvang vir hulle werke (Open. 19:8).

 

NUWE HEMEL:

  • Ons glo in ’n nuwe hemel en aarde waar ons saam met God in heerlikheid sal regeer (Open. 22:3-5)

bottom of page